Jeugwerk

Wys items op etiket: dissipelskap

Saterdag, 04 April 2015 22:26

Die Stokkie moet aangegee word.

Vraag: Wat is die groot opdrag wat die Here Jesus aan sy dissipels gegee het met sy hemelvaart?

Mat.28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Dit vra van elke Christen om dissipels te máák. Die dubbelpunt na “dissipels” dui vir ons aan “hoe” mens dissipels maak... doop hulle en leer hulle! En “wat” moet hulle leer? Alles wat Jesus hulle geleer het - die boodskap van God se liefde!

2 Tim 2 sluit by hierdie opdrag aan maar wil ons vertel dat hier ‘n proses ter sprake is. Die boodskap moet vertel word deur die volgende persone: “Wat jy (Timoteus) my (Paulus) voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy (Timoteus) toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om ander ook te leer.”  Van Paulus aan Timoteus aan betroubare manne, aan ander...

Dit is ‘n proses van oorvertel - die nuus van Christus moet oorvertel word van geslag tot geslag. Hier is 4 generasies betrokke. In moderne konteks kan ons sê dat ons as ouers die nuus moet oordra aan ons kinders - op so ‘n wyse dat ons kinders die nuus sal wil oordra aan hulle kinders!

Dit is soos ‘n aflos-resies. Sal 4 vrywilligers my asb kom help met die aflos? (Vooraf is met een kind gereël om te staan i.p.v. hardloop.)  Laat hulle deur kerk aflos hardloop - prys by my vir die wenners.../ neem tyd. (Gee deelnemers elk ‘n geskenkie.)

Vraag: As een stop in die resies, kan die resies voltooi word? Kan die prys ontvang word? Nee!
Ja, dit is dieselfde probleem wat ons het met ons kinders wat afvallig raak van die kerk...

Ons sien ouers wat tou opgooi met hulle kinders. Liewers geld gee om te fliek en te jol ipv na hulle luister en hulle verstaan. Pa en ma vlug in hulle werk in sodat hulle nie te veel met kinders se moeilike vrae en nukke gekonfronteer word nie.

Die kinders gaan leer hulle waardes op verkeerde plekke - die fliek, video, ens. ipv by ouers!

Iemand het gestop om die evangelie en goeie waardes aan hulle kinders oor te dra!!!
Iewers het ouers nie die stokkie op ‘n verantwoordelike manier (soos hulle met die doop van hul kinders belowe het) aangegee nie.
1. Moontlik het jou dade en jou woorde mekaar weerspreek...
2. Moontlik te bang gewees om jou doopbelofte na te kom omdat jyself nie ‘n goeie verhouding met God het nie...
3. Moontlik nie jou plig as ouer opgeneem nie omdat jy die weg van die minste konfrontasie gekies het...

Jesus het soveel in jou as ouer belang gestel dat die stokkie aan jou oorgegee is - waarom sal jy dit dan nou weerhou van jou kinders??? Dit is die doel van die Evangelie - dit moet aangegee of oorvertel word van geslag tot geslag soos Mat.28 dit vereis!

Timoteus gee vir ons 3 voorbeelde van hoe ‘n Christen die groot opdrag uitvoer om dissipels te maak:

v3: Soldaat
Leef anders as ander mense / het nie eie regte nie / leef onder eie streng wette / gee hul lewe vir die saak / leef nie vir hulle self nie maar vir hul bevelvoerder - doen net wat hy sê / veg teen die vyand sodat hul eie mense beskerm kan word .

v5: Atleet
moet volgens die reêls deelneem om die prys te kry / gedissiplineerd oefen / wil hê om te wen / self hardloop.

v6: Boer
Werk hard om vrug voort te bring / van vroeg tot laat sweet en bid / doen hul deel en vertrou op die natuur (God) om die werk te voltooi.

Hierdie voorbeelde help ons niks as ons nie die geheim van die stokkie ken nie...

Hoe weet ‘n mens jy het sukses behaal as atleet - die stokkie wat jy aangegee het is weer aan iemand anders gegee om verder te hardloop, as soldaat -wanneer die mense vir wie jy jou lewe offer self bereid is om hul lewe te offer vir hul saak, as die boer ‘n deel van die saad wat hy geoes het weer in die grond kan plant om weer saad voort te bring!

Die geheim van die stokkie is dat hy weer aangegee moet word!  As ouer en onderwyser en leier lê jou sukses daarin as jy sien dat die stokkie /Evangelie suksesvol verder aangegee word... Dit beteken dat ons sukses daarin lê dat ons kinders hul kinders na die Here Jesus sal lei.

Hoe sal ons jeug die Here kan ken as ons ouers, onderwyser en leiers nie opreg met God lewe en die jeug met daad en woord oortuig nie? (Hoe sal jou buurman/ vrou, die mense met wie jy werk/ speel die goeie nuus hoor, as jy dit nie oorvertel nie?)

Ons moet so lewe dat ons kinders die evangelie self sal uitleef en verder sal dra - dit mag nie by jou en my stop nie. Gelukkig weet ons dat toe ons die doopbelofte afgelê het, God ook beloof het dat Hy ons die genade en die krag en insig sal gee wat ons nodig het om die kinders in sy Naam groot te maak.

Vers 7 eindig met “Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.”

Dit is God se uitnodiging aan ons vanmore om in ‘n intieme en eerlike verhouding met die Hom  te kom staan - Hy sal ons die krag en genade gee om die stokkie aan te gee...

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) 2 Timoteus 2:2 7 (2)
  • Bybelboek 2 Timoteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    Reël aflos-resies met 4 vrywilligers.Benodig aflosstokkie, stophorlosie en geskenkies.

  • Voorgestelde liedjies & musiek

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

    2. Leesrooster 2004. BUVTON. CTP Boekdrukkers

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Google+